Thursday, July 1, 2010

Inspirasie se koffie staan koud

Vakansie!

Jinne maar ek het darem uitgesien na die vakansie! En hierdie jaar is hy ekstra lank met die Sokker Wêreldbeker en FIFA wat die land vir 'n hele maand lank oorheers! Maar vakansie is een van daardie vreemde dinge wat onverstaanbaar bly vir my. Dit stuur altyd af op 'n anti klimaks, persoonlik werk dit nooit uit soos wat ek dit beplan nie, en sit ek op die einde van die dag met 'n maand lank van verveling, verotting, veroudering. My brein roes, my grappe raak op, my stories raak korter, ek raak apaties! En as ek my oë uitvee dan het ek nog 'n vakansie gemors. En die eerste dag wat dinge weer normaal verloop wens ek ek het weer vakansie! Dit maak net mooi niks sin vir my nie!

En dan sit ek met die vraag of inspirasie ook vakansie hou? Dit is nou byna 'n maand sedert my vorige artikel. En moenie my verkeerd verstaan nie, ek is lief vir skryf, dit is my passie! Hoe kan dit dan wees dat ek net nie die regte woorde vind vir 'n gedig of storie nie? Het inspirasie vergeet om vir my te kom kuier? Daar het dan so baie dinge nou al gebeur waaroor ek kan skryf, tog vind ek net nie die krag om die pen tot op die papier te kry nie! My pen was nog nooit so swaar soos in hierdie vakansie nie!

Ek kan eintlik nie meer wag tot ons terugkeer na normaal nie, tot ek weer gedwing word om te leer, lees, skryf en analiseer. Dit klink seker hartseer om die vakansie so te verwens, maar ek mis die kampus, want ek mis my inspirasie... Dalk is daar iets in Tuks se lugversorgers, of in Coffee Buzz se koffie, dalk is dit die gevoel van student wees, miskien die gesprekke met vriende, wat ook al dit is, dit is nie hier by my teenwoordig nie!

Ispirasie! Jou koffie staan koud!

1 comment:

  1. Hmmm, ek ken die gevoel. Daar is verseker iets in die lugversorgers by Tuks... dalk is dit net in die GW...

    Ek mis die mense, die dinge, die MGMT, die Jungle Speed en die koffie saam met inspirasie-mense.

    ReplyDelete