Ek weet nie meer wat ek weet nie en ek is wat ek weet
Ek vergeet wat ek weet, weet ek dan nog wat ek vergeet het? Of weet ek net nie wat ek eintlik nog als weet nie. Wanneer weet jy presies wat aangaan of weet jy net wat jy wil weet? As jy iets nie wil weet nie dan weet jy eintlik wat jy nie wil weet nie, dan weet jy dit mos nou al klaar... Ek weet nie!
Goedkoop wyn proe goedkoop omdat dit nie duur is nie
Dit is so! Bring 'n bottel wyn na 'n kuier en sê vir almal dit het R30 gekos, dan vat almal eers 'n sluk subjektiwiteit voordat hulle die wyn proe. Bly stil oor die wyn se prys en laat hulle eers proe. Die smaak stel nie die prys nie, die wynboer se skuld by Standard Bank doen. Alle duur wyn was eens op 'n tyd ook goedkoop. Koop wyn, moenie die label koop nie.
Jou wêreld draai om jouself, my wêreld tol want dit draai om almal rondom my
Almal praat altyd oor hulleself, dit is natuurlik, instink. Dit moet vermaaklik en verkieslik humoristies wees, praat vlak, niemand luister in elk geval na die diep dinge wat jy probeer sê nie. Maar draai jou wêreld om jouself as jy oor jouself praat? Almal kry mos 'n kans om te praat oor hulself met iemand wat dan na hulle luister. Tweerigting! Ek hou van praat, maar ek hou meer van luister. Luister na almal se staaltjies, hartseer, grappe, hul naweek, toekomsplanne, verhoudingsprobleme, gunsteling musiek, talente, stokperdjies, voorkeure, verskille, geloofsoortuigings, standpunte, aksente, kennis... My wêreld tol, en almal wat iets vir my sê hou dit aan die tol, dit is hoe ek daarvan hou.
'n Leë stukkie papier vra vir 'n gedig.
'n Gedig vra vir trane
Trane vra vir 'n leë stukkie papier...

