Tuesday, August 3, 2010
Die Hêlleluja trein
skakel maar jou selfoon af my liefling
hier is geen sein
en ons volg die suiderkruis kompas
met 'n sigaret en lustigheid vir avontuur
en dis lastig as die nag ons in die rede val
want ons moet die bestemming bereik
voor die vervaldatum verby is
en kyk na die maan my skat
hy slaan bommelakiesie net vir jou vanaand
en die sterre skitter helderder
as jy jou oë op skrefies trek
miskien moet ons wag vir een wat verskiet
ons het tog soveel tyd
want in die nag staan als stil
en jou pols klop soveel harder
as jy stomverslaan lanks my sit
terwyl die bankrotwind waai
deur die vlindervlakte
soos die vlinders in my maag
dan dink ek ek was al hier
lank gelede alleen
op 'n hartseer aand
maar vanaand koop ek vir jou blomme
met die sweet van aangesig
wie het gesê ek moet met geld betaal?
en ek wil jou een dring vra my liefling
bly by my tot die hêlleluja trein ons kom haal
Subscribe to:
Post Comments (Atom)

No comments:
Post a Comment