My oupa het geimmigreer na Suid Afrika in 1970, my pa was 6. Hulle het in die land gekom as Hollanders. Hierdie groepie Hollanders het hulle eie gemeenskap gestig, en as Hollanders bly voortleef in Suid Afrika, hulle het die Vrije Gereformeerde Kerk in Pretoria gestig, dit bestaan vandag nog, en vandag nog is die lidmate pure Hollanders, hulle hou selfs nog Hollandse markte, en maak tradisionele Hollandse kos en verkoop dit onder mekaar. My ander oupa is ook in Holland gebore, ek kannie onthou wanneer hy hiernatoe geimigreer het nie. Ek weet net hy praat nog Hollands, en ontvang elke maand pensioen in Euro's. My ma en my pa is altwee honderd persent Hollands. Ons familie van oorsee kom kuier gereeld en dan moet almal weer begin Hollands praat, partykeer voel ek deel van hierdie Hollanders, en ander kere wens ek my van was iets anders as Meijer. Hoekom kan ek nie van Heerden of Nel of Botha wees nie?
Ek is hier in Suid Afrika grootgemaak, en tog het ek geen konnotasie met die Afrikaanse geskiedenis of kultuur nie. Ek het nie 'n oom wat 'n wildsplaas naby Warmbad besit nie, my tannies maak nie koeksusters en pannekoeke vir kerkbasaars nie, my oupa kan nie vir my stories van ou karre wat gaan staan op langvergete paaie vertel nie, niemand in my familie weet hoe klink dit as die treine shunt op de Aar nie, ons vier nie geloftedag nie, want "ons voorouers" is nie my voorouers nie. Stories oor generaal de la Rey, Andries Pretorius en Racheltjie de Beer bly maar net stories, soos 'n Hans Andersohn sprokie. My ouma kan nie vir my fotos wys van 'n plattelandse dorpie waar sy grootgeword het nie. My oupa het nie 'n Sunbeam-rooi stoep nie, ek het nie kaalvoet skool toe gestap nie, my ouers ook nie. Ek het geen nostalgiese herinneringe wat ek met die Afrikaners kan deel nie, ek het nie jagstories, spookstories, fabels of boererate wat ek soos jy kan neerskryf nie. Ek het geen herinneringe waarnatoe ek kan ry en dit beleef soos my grootouers dit beleef het nie. Niemand sal my stories vermaaklik vind nie. Niemand sal nadat hulle my stories gelees het terugdink aan hul jonger dae nie.
Miskien moet ek eers uitfigure wie ek is, wat ek wil wees en waar kom ek vandaan. Maar al wat ek het is hierdie lus, Dana. Ek het hierdie lus om te skryf! So nou skryf ek maar vir jou, want ek dink jy sal kan verstaan.
Groetnis
Anton Meijer
PS. Ek skryf hierdie terwyl ek na Koos Kombuis se Geel September luister.
No comments:
Post a Comment