Monday, January 31, 2011

Alzheimer-Lite

Praat met twee woorde. Ja oom, ja ma.
Eet van buite na binne.
Trek die stoel vir 'n meisie uit.
Sê altyd dankie.
Stel jouself voor.
Groet altyd.
Toon respek aan ouer mense.
Bid voor jy eet.
Dank nadat jy geëet het.
Vra voordat jy iets vat.
Moenie jok nie.
Ruim agter jou op.
Moenie met 'n mond vol kos praat nie.
Voete van die tafel af.
Luister vir ouer mense.
Doen wat van jou gevra word.
Maak die kardeur vir jou meisie oop.
Maak jou bed op.
Borsel jou tande twee keer 'n dag.
Moenie jou kouse binneste buite in die wasmasjien gooi nie.
Stadig oor die klippe.
Moenie dronk bestuur nie.
Bied altyd jou hulp aan.
Doen aan ander wat jy wil hê hulle aan jou moet doen.
Wees dankbaar met wat jy het.
Toon daardie dankbaarheid.
Die polisie se nommer is 10111.
Sluit altyd agter jou toe.
Kyk regs, dan links, dan weer regs.
Pasop vir boemelaars en bedelaars.
Gee eerder brood as geld.
Pasop vir verleidelike meisies.
Moenie voor op die wa wees nie.
Moenie grootmense se gesprekke afluister nie.
Ander mense se lewens is nie 'n gesprekspunt nie.
Drink genoeg water.
Kook die water as dit vuil lyk.
Moenie in die huis rook nie.
Moenie jou stompies op die stoep skiet nie.
Moenie rook nie.
Wees lief vir jou broers en susters.
Skakel jou ligte af as jy nie in die kamer is nie.
Moenie die ketel vol water gooi nie, net genoeg vir jouself.
Maak jou veters vas.
Steek jou hemp in as jy kerk toe gaan.
Smeer genoeg sonbrandroom aan.
Spaar jou geld vir iets belangrik.
Onthou om jou mense te laat weet as jy veilig by 'n plek aangekom het.
Onthou om vir my te sê hoe laat ek jou moet kom haal.
Onthou wie het jou grootgemaak en dat ons jou liefhet...

Al hierdie dinge het my ouers my geleer...
Al hierdie dinge onthou ek nadat ek dit nie gedoen het nie.

Die Placebo effek


Placebo, Latyns vir “ek sal bevredig”, is ‘n mediese skynproduk wat jou sielkundig beter laat voel. ‘n Goeie voorbeeld hiervan is die Power Balance armbandjie. Hoewel dit wetenskaplik as ‘n klug bewys is, dra vele mense dit nogsteeds omdat hulle vas glo dat hierdie bandjie hulle fisies beter laat voel. Baie mense het al na my toe gekom en gevra dat ek hulle op die skouer moet druk sodat hulle my kan wys hoe goed hulle met die bandjie kan balanseer. Al hierdie mense loop nou met rooi gesigte rond noudat die armbandjies as niks meer as ‘n stuk plastiek afgemaak is nie. Hoe ookal, die placebo effek is baie kragtig, mense sal enige iets doen vir iets wat hulle beter laat voel. Is dit nie maar ook wat aan die gebeur is in Suid Afrika nie? Die enigste stukkie goedvoel waaraan ons kan vasklou is oudpresident Nelson Mandela, wat die afgelope week weer die voorblaaie gehaal het oor sy gesondheid en sy skielike besoek aan die hospitaal. Ons is so bang ons verloor ons laaste, dalk enigste trots. Van ons is bang vir die dag wat hy doodgaan, Siener van Rensburg se profesie oor die nag van die lang messe nog in ons agterkop. Ander sien op na die dag wat hulle hul comrade, hul vryheidsvegter gaan verloor, die vredesikoon wat ‘n nasie vir die eerste keer laat saamwerk het. Ons het vergeet om aan Suid Afrika te dink na Madiba, hoe gaan ons as mense verder saambou aan ons nasie, sonder ons eerste nasiebouer? Wat gaan ons doen wanneer Suid Afrika sy placebo effek verloor het? Madiba los vir ons ‘n nalatenskap in sy openingsrede van 10 Mei 1994: “Die tyd vir die genesing van die wonde het gekom. Die oomblik wat die afgronde wat ons verdeel het te oorbrug het gekom. Die tyd om te bou is op ons.” Hy sal nog na sy dood steeds ‘n nasiebouer wees, sy placebo effek gaan vir ewig met ons bly. Respek.