Placebo, Latyns vir “ek sal bevredig”, is ‘n mediese skynproduk wat jou sielkundig beter laat voel. ‘n Goeie voorbeeld hiervan is die Power Balance armbandjie. Hoewel dit wetenskaplik as ‘n klug bewys is, dra vele mense dit nogsteeds omdat hulle vas glo dat hierdie bandjie hulle fisies beter laat voel. Baie mense het al na my toe gekom en gevra dat ek hulle op die skouer moet druk sodat hulle my kan wys hoe goed hulle met die bandjie kan balanseer. Al hierdie mense loop nou met rooi gesigte rond noudat die armbandjies as niks meer as ‘n stuk plastiek afgemaak is nie. Hoe ookal, die placebo effek is baie kragtig, mense sal enige iets doen vir iets wat hulle beter laat voel. Is dit nie maar ook wat aan die gebeur is in Suid Afrika nie? Die enigste stukkie goedvoel waaraan ons kan vasklou is oudpresident Nelson Mandela, wat die afgelope week weer die voorblaaie gehaal het oor sy gesondheid en sy skielike besoek aan die hospitaal. Ons is so bang ons verloor ons laaste, dalk enigste trots. Van ons is bang vir die dag wat hy doodgaan, Siener van Rensburg se profesie oor die nag van die lang messe nog in ons agterkop. Ander sien op na die dag wat hulle hul comrade, hul vryheidsvegter gaan verloor, die vredesikoon wat ‘n nasie vir die eerste keer laat saamwerk het. Ons het vergeet om aan Suid Afrika te dink na Madiba, hoe gaan ons as mense verder saambou aan ons nasie, sonder ons eerste nasiebouer? Wat gaan ons doen wanneer Suid Afrika sy placebo effek verloor het? Madiba los vir ons ‘n nalatenskap in sy openingsrede van 10 Mei 1994: “Die tyd vir die genesing van die wonde het gekom. Die oomblik wat die afgronde wat ons verdeel het te oorbrug het gekom. Die tyd om te bou is op ons.” Hy sal nog na sy dood steeds ‘n nasiebouer wees, sy placebo effek gaan vir ewig met ons bly. Respek.
No comments:
Post a Comment