Sunday, May 30, 2010

Die sikkels wat ek begrawe het

Daardie gelykenis van die talente... Jy ken dit. Die een waar die man sy besittings toevertrou aan sy diensknegte. Aan die een gee hy 5 talente, aan die ander een 3, en aan die laaste een net een... En die laaste een het die talent in die grond begrawe. Ek voel soos die een wat die talent begrawe het, my talent wat ek ontvang het, weggesteek, onderduk deur die menings van vriende dat Afrikaans gaan uitsterf. Ek het met toe oë deur my skooljare gestap, met 'n bruisende begeerte wat uit my hart wou uitbars. Die begeerte om myself in Afrikaans uit te druk, om te kan skryf in Afrikaans, om te kan dig in Afrikaans. Ek het dit in die geheim gedoen, bang om as vreemd aanskou te word. Bang vir die wêreld wat my sou uitlag omdat ek genot uit metafore, sinonieme en alliterasie vind, omdat ek karaktereienskappe en klimakse in verhale raaklees, omdat ek kreatiewe gesegdes uitdink, omdat ek elke tweede sin wat my tong verlaat probeer kruisrym.

Ek weet die pen is skerper as swaard, my tong is 'n roer wat 'n groot skip stuur, maar ek het met die illusie geleef dat ek nie die skip sal kan stuur nie, en die skip het vir 19 jaar vasgeanker in 'n verlate hawe gelê. Dit is egter 'n groot verantwoordelikheid om stuurman te wees, 'n verantwoordelikheid wat ek in my eerste jaar op Universiteit eers aanvaar. Op Universiteit waar ek vir die eerste keer in my leeftyd met mense in aanraking gekom het wat dieselfde as ek voel oor taal, 'n vryevers en die toekoms van Afrikaans. Mense wat vriende geword het, vriende met wie ek nog 'n lang pad gaan stap. Vriende wat kollegas gaan word, kollegas wat saam my gaan veg vir Afrikaans. Vegters langs wie ek sal val. En as ons val, val ons met die wete dat ons tot die bittereinde gestry het.

Die skip se anker word gelig, ek is gereed om stelling in te neem agter die stuur. Moenie dat jou talent begrawe word nie, moenie dat jou vriende jou in boksies plaas nie. Boksies waarin jy nie hoort nie! Klim uit, grawe daai talent van jou op en maak 'n verskil met dit wat jy ontvang het!

Hierdie was eens 'n beeld van 'n geraamte in my kas
nou is dit 'n skildery wat ek in my voorportaal uitstal:

tussen die lig en jou droom:

wanneer die deure dig is
en die ligte verdoof
word die maskers van die agt tot vyf gelig
en lê jy met kop op kussing
tussen realiteit
en skynheiligheid

agter slot en grendel
kan jy skree en huil
oor die probleme wat soos planete
in jou kop wentel
en kan jy bid
en skryf

tussen die afskakel van lig
en die begin van die droom
vertrek jy na 'n plek
van geen karre of skepe
geen alarms of veiligheidshek
geen skuldeisers
of nare onderwysers
geen vuisgeveg
geen onreg
geen gedagte van als wat sleg is

tussen die afskakel van lig
en die begin van die droom

No comments:

Post a Comment