'n Week terug het my ma vir my 'n blokkiesraaisel boek gegee en seker gedink sy gaan my woordeskat help opskerp. Ek weet nie wat sy van my woordeskat dink nie, maar die 42ste en laaste blokkiesraaisel het ek vanaand klaargemaak. Die boek is verkrag en toe moes dit nou gebeur dat blokraai 8 eerste loskom en op die grond val. In my verveeldheid vee ek toe al die woorde uit en skryf 'n gedig in die leë blokkies neer. Met 'n vloekskoot pas die gedig toe presies in die blokkies in. Ek kon my oë nie glo nie! 316 karakters in die gedig, 316 wit, leë vierkantige blokkies in Blokraai 8. En direk heg ek waarde aan my eerste blokkiesraaisel gedig:
'n blokkiesraaiselgedig (lees vlnr)
ek probeer jou invul
blokkiesraaisel agt
maar die woorde ontwyk my
en jou leidrade skuil
nie agter swart ink
maar agter glimlag
wat ek nie hier kan vind nie
en in jou oë
wat op my neerval soos herfsblaar
wat ek nie nou kan sien nie
eb en vloed elemente
rosyntjies is krente
songod ra
vroulike ouer is ma
kom nie voor in blokraai ag
die krag van die leë spasies
is verborge in jou onbeskryfbare prag
Miskien moet jou ma nog blokkiesraaisel boeke koop...want as jy verveeld is...skryf jy regtig DIE mooiste goed!!
ReplyDelete