Al gesien hoe almal alles uitstort op die Internet? Ek doen dit ook! Jy lees hierdie blog, ek stort my kommentaar en opinies hier uit!
Maar hierdie artikel gaan nie oor die feit dat almal hul sê het op die Interwebs nie, dit gaan oor wat hulle te sê het. Gaan na jou Facebook/Twitter en lees die eerste 20 status updates wat jy sien. Kanse is baie groot dat jy die volgende woorde/frases daar sal vind: "bokkie", "mis jou", "mwa", " hartseer", "lief vir jou", "ek kan dit nie meer vat nie", iets in daai lyn, jy kry die idee. Volgens my het al hierdie woorde en frases iets te doen met die hart. Iets te doen met liefde en verlief wees, gevoelens wat diep in jou bruis soos 'n Corenza C. Daardie skoenlappers in jou maag, dis hulle ja, net in woorde... Woorde wat jy vir die wêreld verkondig!
Ek weet as mens verlief is wil jy dit net vir almal van 'n berg af skree, maar jy kan gewoonlik nie. Ek dink mens kan gewoonlik nie omdat dit nie nodig is nie. Dis baie moeite om die berg op te klim, net om iets sinneloos te skree wat niks aan die situasie gaan verander nie, en eintlik gee die res van die mense nie veel om of jy verlief is of nie, dis oulik vir vyf minute, dan is dit ou nuus. Honde pis op ou nuus.
Die Internet het die spreekwoordelike berg geword. Facebook = Mount Everest, Twitter = Kilimandjaro. Skree, skree, skree. Dis gerieflik as jou geliefde ver is en jy wil graag kontak hou, of as jou airtime op is en jy nie kan bel nie. Dit vervang die ou (romantiese) manier van briewe vir mekaar skryf met 'n baie vinnige, elektroniese oplossing.
Maar asseblief mense, wil almal weet wat aangaan in jou liefdeslewe? Die berg word misbruik, en dit word afgesaag. Moenie jou status update iets sinneloos vir "jou bokkie" maak nie. Ek wil dit nie weet nie. Ek weet almal moet deesdae direk vir almal laat weet hoe hulle voel, maar rerig, ek gee nie om of jy lief is vir haar nie. Sê dit vir haar in persoon en spaar ons die soppy mwa's, mis jou's, lief vi jou's, en jys die beste's.
My reaksie: Aaaaaaah dis so cute, in Japan ja, hide all posts from this contact.
Hou jou status updates iets sinvol of snaaks, iets wat almal sal wil lees, iets soos: "Johan het sopas iemand se hare gekam, met 'n Toyota Corolla, moenie voor my kar inspring nie!" Dit spreeks van erns, Johan het nounet iemand raakgery, maar dis humoristies. Gebruik jou LOL asseblief net wanneer dit 'n LOL werd is.
Doen ons almal 'n guns en hou jou liefdeslewe tussen jou en jou bokkie. Dankie. Dis al. Anton uit.
Pixel
jou siel is 'n pixel en dis hartseer
dis hartverskeurend dat dit so moet wees
keer op keer verander
jou siel verander kleur
'n rooi hart (it's complicated)
jou hart 'n diode
'n liggewende diode
wat jou oë laat bloedloop
tot laataand
en dan voor jy slaap
hiberneer jou siel
om krag te spaar
ons leef mos groen
(swart screensavers)
skud skud wakker
skakel aan jou siel
jou gemoedstoestand
en jou stad se weerspatrone
word uitgestort
op 'n pixel
'n pixel
pixel
.
No comments:
Post a Comment