Ek moes onlangs 'n werkstuk inhandig waar ek my eie opinie moes gee oor Onse milde God, 'n gedig van Breyten Breytenbach. Die universiteit verwag dat jy 'n bronnelys moet aanheg aan elke werkstuk wat jy inhandig...
Eie opinie? Bronnelys?
Hoe verwys ek na my eie opinie in 'n bronnelys? Ek is maar net 'n eerstejaar student, met geen graad of akademiese seggenskap nie, maar tog het ek my eie opinie. Elke persoon is geregtig op sy eie opinie, en as ek my eie opinie moet lewer oor 'n gedig beteken dat ek my eie oortuiginge en gevoelens gaan inspan om die gedig te analiseer en te ontleed.
Maar my eie opinie is nie goed genoeg vir die akademici nie, ek moet my eie opinie staaf met 'n uitgesproke figuur in die akademici se sienings. Dus word my eie opinie nie meer my eie nie, maar die van 'n persoon wat "meer weet as ek". Hoe word mens daardie persoon wat "meer weet as ek", iemand soos Antjie Krog of Breytenbach of Andre Le Toit, wat as heiliges beskou word in die akademie, wat reenboë poef in elke Afrikaanse dosent se oë, wat dieselfde sê as ek, maar wie se stem soveel meer gewig het? Om die waarheid te sê gee ek nie eintlik om oor wie het wat te sê nie, want dit wat hulle sê is ook net hul eie opinie.
Ek weet daar is seker mense wat al klaar dieselfde gevolgtrekking oor die gedig as ek getrek het, en dat ek moet oppas vir plagiaat, maar beteken dit dan dat ek al die geskrewe werk rondom 'n saak moet deurlees voordat ek my eie opinie kan vorm? Hoe regverdig die gebruik van bronne die vraag om jou eie opinie te gebruik? Dit weerspreek die doel...
'n Ontleding in die wetenskap is gebasseer op feite, syfers. Dit gebeur in 'n laboratorium, jy het 'n graad nodig, jy het wit jasse en brille daarvoor nodig. 'n Ontleding in die Geesteswetenskappe gebeur om 'n koppie koffie, 'n kampvuur, dis nie gebind aan tyd of plek of persoon nie. Dit is opwindend, 'n oop gesprek vind plaas, en elkeen kry die kans om sy eie opinie te lug. Daar is nie klinklare antwoorde of bewyse nie, en dit is hoe dit hoort. Oorgelewer aan persoonlike gevoelens, oortuiginge en opinies.
Hoekom kan ons dit nie so hou nie?
Ek voel so bietjie deurmekaar... Iemand moet vir my 'n akademies aanvaarbare definisie gee van "eie opinie".
No comments:
Post a Comment