ek wens ek was die fondament
van 'n taal
die kanon
'n dertiger
dalk 'n baanbreker
sestiger
postmodern
op 'n tikmasjien
ek wens ek kon PW
'n terroris noem
'n Casspir-monster pen
'n slagting verwoord
en met telegram
na my vriende
in bellville stuur
ek wens ek was 'n lid
van die Werkersunie
wat speels
hartseer
die afrikaner
nasionalisme
armsalig veroordeel
ek wens ek was 'n skrywer
van 'n randgebied
kaaps afrikaanse
gedig
djou pa se moer
hys i syplap
ek wens my digkuns
was uitdagend
teen dominante
ideologieƫ
en eras
van NG kerk besluite
en bevele
ek wens vir die opwinding
van 'n ondergondse
bundel
tipografies kripties
(fok die NP)
verskuil in die titels
beskinder
deur die ouderling se vrou
(daai alternatiewe ou)
ek wens my werk was verban
vir bonus publisiteit
onder anti establishment
faksies
en koeksistergildes
by studente boekklubs
wat skelm
hulle kasette agteruit speel
ek wens my woorde
was gegrafeer
in 'n senotaaf
van die afrikaanse
digters
en liriekskrywers
by 'n
nuwe afrikaner
taalmonument
ek wens die was nog de
ek wens die weerlig
was 'n pyngedagte
ek wens die reƫn
was nog 'n dans
van ons suster
ek wens eggo
is geen antwoord
ek wens my hart
is 'n toring
ek wens
ek kon langs paul sauerstraat
afry. pad pad pad
en dan wag vir die kedoes
medi husse met
lang lang ore
No comments:
Post a Comment