met sy hand in sy hare
sy elmboog op 'n muwwe tafel
wat ruik na suur melk en sunny side up eiers
sit die man
vooroor gebuk
en vat 'n sluk
uit sy mega koffie al lou
hy tel weer sy potlood op
en tik dit tussen sy geel vingers
al vinniger, vinniger
dan stop hy
en byt aan die uitveer
hy krap op die hoeke van die lee papier
hy teken 'n reenwolk
donkergrys ingekleur
en sit die potlood neer
hy sug
en steek 'n sigaret op
hy rook en skud sy kop
heen en weer
hy skuif rond op die rooi banke
en staar
na die mense en trollies
die karwagte
sy stompie rook nog in die asbak
hy los 'n twintig rand traktaatjie
en terwyl hy so by die deur uitstap
mompel hy
skaars hoorbaar
inspirasie eet nie by die wimpy nie
No comments:
Post a Comment