Thursday, March 24, 2011

Onkruid

Onkruid in jou tuin
Onkruid in jou hart
Onkruid in jou sitkamer
Onkruid in jou stad

dis duwweltjies
in jou voortuin
roesbruin
dit groei op mure
waai oor van die bure
gekweek in fabrieke
die onwelriekende onkruid

in elke voorstad
is dit kakiebos
en monniksbaard
dit steek dit stink
dis lelik
versprei soos 'n veldbrand
'n meter vir honderdentwintigrand

daars stinkblaar
in jou sitkamervenster
dit hou gaste uit
genooid of ongenooid
wortel belemmerde uitkyk
maar liefs vir die nag
hou die vuilgoed wag

moenie my nastergal snoei
of die bure s'n uitroei nie
netnou trek dit aandag
dit maak my kwesbaar in die nag
mens weet nooit in tye
onveilig verbysterde tye
soos vandag nie

veiligheid eerste
my onkruid is die meeste
ek sal die roesbruin duwweltjies aanraai
ek het dit gister oor my erf gesaai
dis 'n aansig om aan gewoond te raak
maar ek sien ten minste nog my posbus
en die straat

Heinings in jou tuin
Heinings in jou hart
Heinings in jou sitkamer
Heinings in jou stad

Wednesday, March 23, 2011

Die beplande begrafnis van Afrikaans

dis blaasbalke en poghane
hoogleraars van die pessimis
wat klink soos druppende krane
op 'n taal se dodekis

geklee in sy staatsiegewaad
op 'n sagte wit laken
omring met femelary
van die spekslaers en skieters
en selfmoordenaars
van homself

dis sterfsertifikate en stoete
geredder deur die pessimis
met 'n roulag en koue voete
'n grynslag as hy die graf bepis

maar hy hoor nog die krygsgeroep
van jare gelede
sy hart slaan stadig
in die gestig
en vir Breytenbach het hy nog krag
om sy middelvinger te lig

Tekens (lees)

in elke komma, is 'n asemhaal
in elke punt. 'n pouse
elke uitroep! sal gemoed bepaal
'n vraag? onseker op die bladsyvoue

die ellips...
is 'n storie wat nog vertel moet word
elke hakkie ('n skinder)
ekstra sappig uitgestort

aanhaltekens vat die blaam
"en plaas dit op die aangehaalde"
'n dubbelteken lys die faam:

en 'n lee bladsy is die dood

Ruimtewese

ek lewe deur die ruite
ver bo vergiffenis
my lewe is 'n venster
waar die aarde net 'n olieverfspatsel is

ek sien die son
het toe nooit gaan sak nie
en besef my droom
was nie net 'n grap nie

ek is die draer van goeie nuus
geen oorwinning geen verlies
die verdoemkomete
het 'n ander wentelbaan gekies

Verbruin

verbruin verbruin
tan jou taal op die strande
in jou vergeelde koerante
die ATKV
sal beurse weggee

verbruin verbruin
verbreed jou grense
vir die Wellington mense
die Beeld en die By!
steek die rasgrens verby

verbruin verbruin
hulle's minder bevoorreg
al klink die aksent sleg
sal hul ook
vir Afrikaans veg