Thursday, March 24, 2011

Onkruid

Onkruid in jou tuin
Onkruid in jou hart
Onkruid in jou sitkamer
Onkruid in jou stad

dis duwweltjies
in jou voortuin
roesbruin
dit groei op mure
waai oor van die bure
gekweek in fabrieke
die onwelriekende onkruid

in elke voorstad
is dit kakiebos
en monniksbaard
dit steek dit stink
dis lelik
versprei soos 'n veldbrand
'n meter vir honderdentwintigrand

daars stinkblaar
in jou sitkamervenster
dit hou gaste uit
genooid of ongenooid
wortel belemmerde uitkyk
maar liefs vir die nag
hou die vuilgoed wag

moenie my nastergal snoei
of die bure s'n uitroei nie
netnou trek dit aandag
dit maak my kwesbaar in die nag
mens weet nooit in tye
onveilig verbysterde tye
soos vandag nie

veiligheid eerste
my onkruid is die meeste
ek sal die roesbruin duwweltjies aanraai
ek het dit gister oor my erf gesaai
dis 'n aansig om aan gewoond te raak
maar ek sien ten minste nog my posbus
en die straat

Heinings in jou tuin
Heinings in jou hart
Heinings in jou sitkamer
Heinings in jou stad

No comments:

Post a Comment