Friday, December 17, 2010

Jakkals trou met wolf se vrou

die skaapwagter op die nok van die dak
hou die kudde van verre dop
statig beweeg hul oor die vlakte
staties...
die belhammel kies koers noord
reguit noord na die huis
waar die skaapwagter sit
donserig en vol donderlig
beweeg die skape stadig
die beetles en spyders
soek vinnig skuiling
in hul gate, vreesbevange
vir die krag van die skape
wit in die sonlig
maar grys van die stof
netnou gaan hierdie reuse skape
bo die skaapwagter se huis kom wei
en geduldig aan die polle kou
dalk selfs tot more...
jakkals trou met wolf se vrou

Straatakkreditasie

Kaapstad:
nege ml in die een hand,
die inkopiesak
van baby city
in die ander:

"ek sê djou my lanie
a man's gotta do what a man's gotta do
i would kill the farmer i would kill the boer
die pay is goed
en jis...
dis duur om 'n baby te voer"

Johannesburg:
growwe hande met snye
van die kersboom draadwerk
skoensoolkleingeld
en afslag:

"woza bru buy my christmas tree
everybody's trying hard to survive
take a look at my keyrings
i tell you what...
i'll give you one free if you buy five"

Pretoria:
die checkers trollie
stuur swaar in die nat straat
'n gebukte rug
en 'n grys baard:

"baas het jy nie die ou papier nie
ek stoot die trollie vi mondi
maar die asblikke hys leeg vandag
amper so leeg soos my maag
hau baas...
dankie"

Wednesday, December 8, 2010

'n Brief aan Dana

My oupa het geimmigreer na Suid Afrika in 1970, my pa was 6. Hulle het in die land gekom as Hollanders. Hierdie groepie Hollanders het hulle eie gemeenskap gestig, en as Hollanders bly voortleef in Suid Afrika, hulle het die Vrije Gereformeerde Kerk in Pretoria gestig, dit bestaan vandag nog, en vandag nog is die lidmate pure Hollanders, hulle hou selfs nog Hollandse markte, en maak tradisionele Hollandse kos en verkoop dit onder mekaar. My ander oupa is ook in Holland gebore, ek kannie onthou wanneer hy hiernatoe geimigreer het nie. Ek weet net hy praat nog Hollands, en ontvang elke maand pensioen in Euro's. My ma en my pa is altwee honderd persent Hollands. Ons familie van oorsee kom kuier gereeld en dan moet almal weer begin Hollands praat, partykeer voel ek deel van hierdie Hollanders, en ander kere wens ek my van was iets anders as Meijer. Hoekom kan ek nie van Heerden of Nel of Botha wees nie?

Ek is hier in Suid Afrika grootgemaak, en tog het ek geen konnotasie met die Afrikaanse geskiedenis of kultuur nie. Ek het nie 'n oom wat 'n wildsplaas naby Warmbad besit nie, my tannies maak nie koeksusters en pannekoeke vir kerkbasaars nie, my oupa kan nie vir my stories van ou karre wat gaan staan op langvergete paaie vertel nie, niemand in my familie weet hoe klink dit as die treine shunt op de Aar nie, ons vier nie geloftedag nie, want "ons voorouers" is nie my voorouers nie. Stories oor generaal de la Rey, Andries Pretorius en Racheltjie de Beer bly maar net stories, soos 'n Hans Andersohn sprokie. My ouma kan nie vir my fotos wys van 'n plattelandse dorpie waar sy grootgeword het nie. My oupa het nie 'n Sunbeam-rooi stoep nie, ek het nie kaalvoet skool toe gestap nie, my ouers ook nie. Ek het geen nostalgiese herinneringe wat ek met die Afrikaners kan deel nie, ek het nie jagstories, spookstories, fabels of boererate wat ek soos jy kan neerskryf nie. Ek het geen herinneringe waarnatoe ek kan ry en dit beleef soos my grootouers dit beleef het nie.  Niemand sal my stories vermaaklik vind nie. Niemand sal nadat hulle my stories gelees het terugdink aan hul jonger dae nie.

Miskien moet ek eers uitfigure wie ek is, wat ek wil wees en waar kom ek vandaan. Maar al wat ek het is hierdie lus, Dana. Ek het hierdie lus om te skryf! So nou skryf ek maar vir jou, want ek dink jy sal kan verstaan.

Groetnis
Anton Meijer

PS. Ek skryf hierdie terwyl ek na Koos Kombuis se Geel September luister.

Tuesday, November 30, 2010

Liggies

                                                lawleystraat se ligte
        brand lank voor desember
  'n kommersiële kerskompetisie
                                                johan rissikstraat
         se spandabelrige skouspel
                         van stadsliggies
      wat lank na sluitingstyd skyn
                                                tom jenkins laan
       die brandwag van die moot
      maar tog nie 'n fort werd nie
                                                en dan voortrekkerweg
 waar hulle met pink slips betaal
                  se fort word beman
                        met sluipslapers
                       en wonderboom
                      se vliegtuigliggies

Wednesday, November 24, 2010

Motivering vir 'n studentedigter

Dog deels-kanon
tog apokrief
'n student se gedigte
in 'n elektroniese brief

die bloemlesing gemis
stukkie los papier
'n student se gedigte
wat die lewe versier

Tuesday, November 23, 2010

Ek wens

ek wens ek was die fondament
van 'n taal
die kanon
'n dertiger
dalk 'n baanbreker
sestiger
postmodern
op 'n tikmasjien

ek wens ek kon PW
'n terroris noem
'n Casspir-monster pen
'n slagting verwoord
en met telegram
na my vriende
in bellville stuur

ek wens ek was 'n lid
van die Werkersunie
wat speels
hartseer
die afrikaner
nasionalisme
armsalig veroordeel

ek wens ek was 'n skrywer
van 'n randgebied
kaaps afrikaanse
gedig
djou pa se moer
hys i syplap

ek wens my digkuns
was uitdagend
teen dominante
ideologieë
en eras
van NG kerk besluite
en bevele

ek wens vir die opwinding
van 'n ondergondse
bundel
tipografies kripties
(fok die NP)
verskuil in die titels
beskinder
deur die ouderling se vrou
(daai alternatiewe ou)

ek wens my werk was verban
vir bonus publisiteit
onder anti establishment
faksies
en koeksistergildes
by studente boekklubs
wat skelm
hulle kasette agteruit speel

ek wens my woorde
was gegrafeer
in 'n senotaaf
van die afrikaanse
digters
en liriekskrywers
by 'n
nuwe afrikaner
taalmonument

ek wens die was nog de
ek wens die weerlig
was 'n pyngedagte
ek wens die reën
was nog 'n dans
van ons suster
ek wens eggo
is geen antwoord
ek wens my hart
is 'n toring
ek wens
ek kon langs paul sauerstraat
afry. pad pad pad
en dan wag vir die kedoes
medi husse met
lang lang ore

Monday, November 22, 2010

Inspirasie

met sy hand in sy hare
sy elmboog op 'n muwwe tafel
wat ruik na suur melk en sunny side up eiers
sit die man
vooroor gebuk
en vat 'n sluk
uit sy mega koffie al lou

hy tel weer sy potlood op
en tik dit tussen sy geel vingers
al vinniger, vinniger
dan stop hy
en byt aan die uitveer
hy krap op die hoeke van die lee papier
hy teken 'n reenwolk
donkergrys ingekleur
en sit die potlood neer

hy sug
en steek 'n sigaret op
hy rook en skud sy kop
heen en weer
hy skuif rond op die rooi banke
en staar
na die mense en trollies
die karwagte

sy stompie rook nog in die asbak
hy los 'n twintig rand traktaatjie
en terwyl hy so by die deur uitstap
mompel hy
skaars hoorbaar

inspirasie eet nie by die wimpy nie

Monday, November 15, 2010

Facebook Page

Gister het ek so bietjie deur my ou skryfwerk geblaai en op 'n baie komiese ding afgekom wat ek laasjaar geskryf het. Ek onthou nog hoe hierdie liedjie deur Jakaranda verkrag is. Deesdae hoor mens hom nooit meer nie, maar gaan soek hom! Ek is seker jy het hom erens op 'n CD, of op jou rekenaar. Draai die speakers hard, en sing saam, beter as 'n tjoppie oppie vuur :)


Lady Gaga - Poker Face    Anton Meijer - Facebook Page

Fa Fa Fa Fa...
Fa Fa Fa Fa...
Fa Fa Fa Fa...
Fa Fa Fa Fa...
Fa Fa Fa Fa...

I wanna Facebook like they do in Varsity!
Laptop, Apple, 3G, PC baby chat with me (I love it!)
Love, games, application, chat to girls without a shirt
and after she accept I'll send a gift that looks like shit

oh o-oh oh oh oh, ooooooh
My keyboard's hot, I'm typing alot!
(x2)

Cant' read my, can't read my
no you can't read on my Facebook Page
she is got me blocked out baby
(x2)

f-f-f-Facebook Page f-f-Facebook Page
Fa Fa Fa Fa
(x2)

I wanna hug with her, and online I will be
a little commenting is fun, send a smiley (She loves it)
Flirting with fingers not the same without nicknames
My Internet is slow, and I can't even play games (games)

oh o-oh oh oh oh, ooooooh
My keyboard's hot, I'm typing alot!
(x2)

Cant' read my, can't read my
no you can't read on my Facebook Page
she is got me blocked out baby
(x2)

f-f-f-Facebook Page f-f-Facebook Page
Fa Fa Fa Fa
(x2)

I will poke you if you poke me, slap or sheep me
cause im trying to applying
im not lying im just flying with my online kitething
just like a virus on my laptop take your RAM before i chat online
My status is status is
Facebook love equals worldwidepeace

Cant' read my, can't read my
no you can't read on my Facebook Page
she is got me blocked out baby
(x2)

Thursday, November 11, 2010

Jou eie opinie

"Elkeen is geregtig op sy eie opinie, maar nie op sy eie feite nie."
Ek moes onlangs 'n werkstuk inhandig waar ek my eie opinie moes gee oor Onse milde God, 'n gedig van Breyten Breytenbach. Die universiteit verwag dat jy 'n bronnelys moet aanheg aan elke werkstuk wat jy inhandig...

Eie opinie? Bronnelys?

Hoe verwys ek na my eie opinie in 'n bronnelys? Ek is maar net 'n eerstejaar student, met geen graad of akademiese seggenskap nie, maar tog het ek my eie opinie. Elke persoon is geregtig op sy eie opinie, en as ek my eie opinie moet lewer oor 'n gedig beteken dat ek my eie oortuiginge en gevoelens gaan inspan om die gedig te analiseer en te ontleed.

Maar my eie opinie is nie goed genoeg vir die akademici nie, ek moet my eie opinie staaf met 'n uitgesproke figuur in die akademici se sienings. Dus word my eie opinie nie meer my eie nie, maar die van 'n persoon wat "meer weet as ek". Hoe word mens daardie persoon wat "meer weet as ek", iemand soos Antjie Krog of Breytenbach of Andre Le Toit, wat as heiliges beskou word in die akademie, wat reenboë poef in elke Afrikaanse dosent se oë, wat dieselfde sê as ek, maar wie se stem soveel meer gewig het? Om die waarheid te sê gee ek nie eintlik om oor wie het wat te sê nie, want dit wat hulle sê is ook net hul eie opinie.

Ek weet daar is seker mense wat al klaar dieselfde gevolgtrekking oor die gedig as ek getrek het, en dat ek moet oppas vir plagiaat, maar beteken dit dan dat ek al die geskrewe werk rondom 'n saak moet deurlees voordat ek my eie opinie kan vorm? Hoe regverdig die gebruik van bronne die vraag om jou eie opinie te gebruik? Dit weerspreek die doel...

'n Ontleding in die wetenskap is gebasseer op feite, syfers. Dit gebeur in 'n laboratorium, jy het 'n graad nodig, jy het wit jasse en brille daarvoor nodig. 'n Ontleding in die Geesteswetenskappe gebeur om 'n koppie koffie, 'n kampvuur, dis nie gebind aan tyd of plek of persoon nie. Dit is opwindend, 'n oop gesprek vind plaas, en elkeen kry die kans om sy eie opinie te lug. Daar is nie klinklare antwoorde of bewyse nie, en dit is hoe dit hoort. Oorgelewer aan persoonlike gevoelens, oortuiginge en opinies.


Hoekom kan ons dit nie so hou nie?

Ek voel so bietjie deurmekaar... Iemand moet vir my 'n akademies aanvaarbare definisie gee van "eie opinie".

 

Sunday, October 31, 2010

Pixel: Die nuwe manier van lewe

Al gesien hoe almal alles uitstort op die Internet? Ek doen dit ook! Jy lees hierdie blog, ek stort my kommentaar en opinies hier uit!

Maar hierdie artikel gaan nie oor die feit dat almal hul sê het op die Interwebs nie, dit gaan oor wat hulle te sê het. Gaan na jou Facebook/Twitter en lees die eerste 20 status updates wat jy sien. Kanse is baie groot dat jy die volgende woorde/frases daar sal vind: "bokkie", "mis jou", "mwa", " hartseer", "lief vir jou", "ek kan dit nie meer vat nie", iets in daai lyn, jy kry die idee. Volgens my het al hierdie woorde en frases iets te doen met die hart. Iets te doen met liefde en verlief wees, gevoelens wat diep in jou bruis soos 'n Corenza C. Daardie skoenlappers in jou maag, dis hulle ja, net in woorde... Woorde wat jy vir die wêreld verkondig!

Ek weet as mens verlief is wil jy dit net vir almal van 'n berg af skree, maar jy kan gewoonlik nie. Ek dink mens kan gewoonlik nie omdat dit nie nodig is nie. Dis baie moeite om die berg op te klim, net om iets sinneloos te skree wat niks aan die situasie gaan verander nie, en eintlik gee die res van die mense nie veel om of jy verlief is of nie, dis oulik vir vyf minute, dan is dit ou nuus. Honde pis op ou nuus.

Die Internet het die spreekwoordelike berg geword. Facebook = Mount Everest, Twitter = Kilimandjaro. Skree, skree, skree. Dis gerieflik as jou geliefde ver is en jy wil graag kontak hou, of as jou airtime op is en jy nie kan bel nie. Dit vervang die ou (romantiese) manier van briewe vir mekaar skryf met 'n baie vinnige, elektroniese oplossing.

Maar asseblief mense, wil almal weet wat aangaan in jou liefdeslewe? Die berg word misbruik, en dit word afgesaag. Moenie jou status update iets sinneloos vir "jou bokkie" maak nie. Ek wil dit nie weet nie. Ek weet almal moet deesdae direk vir almal laat weet hoe hulle voel, maar rerig, ek gee nie om of jy lief is vir haar nie. Sê dit vir haar in persoon en spaar ons die soppy mwa's, mis jou's, lief vi jou's, en jys die beste's.

My reaksie: Aaaaaaah dis so cute, in Japan ja, hide all posts from this contact. 

Hou jou status updates iets sinvol of snaaks, iets wat almal sal wil lees, iets soos: "Johan het sopas iemand se hare gekam, met 'n Toyota Corolla, moenie voor my kar inspring nie!" Dit spreeks van erns, Johan het nounet iemand raakgery, maar dis humoristies. Gebruik jou LOL asseblief net wanneer dit 'n LOL werd is.

Doen ons almal 'n guns en hou jou liefdeslewe tussen jou en jou bokkie. Dankie. Dis al. Anton uit.

Pixel


jou siel is 'n pixel en dis hartseer
dis hartverskeurend dat dit so moet wees
keer op keer verander
jou siel verander kleur
'n rooi hart (it's complicated)
jou hart 'n diode
'n liggewende diode
wat jou oë laat bloedloop
tot laataand
en dan voor jy slaap
hiberneer jou siel
om krag te spaar
ons leef mos groen
(swart screensavers)

skud skud wakker
skakel aan jou siel
jou gemoedstoestand
en jou stad se weerspatrone
word uitgestort
op 'n pixel
'n pixel
pixel
.

Sunday, October 24, 2010

Kennis is oordrewe

ek ken ses akkoorde
maar ek gebruik net drie
want ek het net drie nodig
om jou te besing

ek ken ses disse
maar ek kook net twee
want ek het net twee nodig
om 'n maaltyd met jou te deel

ek ken ses gebede
maar ek gebruik net een
want ek het net een nodig
om my dank vir jou te betoon

Friday, October 22, 2010

Studentedroom

kom ons klim in die kombi
en ry vyf oor elf weg
van die gewelf en
verken die middernag op
die pad na die eenvoud
van blouer blou
see en lug verfrommelde
horisonne
met die musiek sag
vir saamsing
samesyn slaap teen my
skouer
ek maak jou wakker
met die sonsopkoms
oor berg en duin
dan stap ons saam
met koffie
op strande waar
honde en vlieers
elke dag dieselfde
ander pad stap
en ons bou kastele
met sand
en kom terug
om terug te
dink aan
die droom
van saam
alleen
wees

Geehart

die geehart gevul met passie
vat vat aan vathart
wang teen wang
traan op traan

die geehart gevul met wyn
hand hand samesyn
mond teen mond
prag prys prag

die geehart gedroog
stof tot stof
lê lê bevredig
rustig in geegrond...

Tuesday, October 5, 2010

Die dokter en die digter

daar was eens lank tevore
'n dokter en 'n digter
uit dieselfde skoot gebore
die een leer uit vandag
die ander een uit gister

die dokter had 'n graad
in medisyne kwale skete
die digter had 'n bundel
van inspirasie lank vergete

die digter was 'n vryman
die digter was 'n dromer
die dokter vasgebind in gange
sien selde van die somer

tog helaas
had elk sy eie operasie
die dokter sny met skalpel
die digter met versifikasie

en altwee had te doen met die hart
die dokter steek hom
die digter roer hom
die dokter voer hom toe met steke
die digter krap dit oop met pen

praktiseer met die pen
praktiseer met die hart
praktiseer met naalde
praktiseer is smart

Monday, October 4, 2010

Die kinders in die parkie

die kinders in die parkie
wat swaai
word eendag oud
en die swaai word 'n brug
en die kettings 'n tou om hul bene

die kinders in die parkie
wat rondomtalie ry
word eendag student
en die rondomtalie word 'n glas
en alkohol maak hulle nou dronk

die kinders in die parkie
wat op die gras rol
word eendag hoog
en hulle rol nou self die gras
en dit bommelakiesie in hul kop

die kinders in die parkie
wat prentjies in die wolke sien
word eendag verslaaf
en die wolke bly wolke
maar word wolke van nikotien

die kinders in die parkie
wat gly
word eendag 'n konsultant
en die glyplank word 'n glyskaal
en die daling word gemeet in geld

die kinders in die parkie
wat wipplank ry
word getroud
en dis wipplank in verhoudings
hoog laag skei

die kinders in die parkie
wat lewe
gaan eendag dood
en die liggaam word stof
en die parkie word 'n grafplaas

Wednesday, September 29, 2010

Dagbreek

die dag breek agter toegeboude erwe
tussen serwutiete en duette
oor die sesde vloer van die woonstelblok
en ADT omheinings
deur die skrefies in betonmure

hy stap saam jou in skaduvorm
en groet agter die verste berg
en waai met laaste straal
oor die steenmure
die elektriese draad
die waarskuwingsborde
oor die onderverdelings en opritte
 

Friday, September 24, 2010

Rook...

Rook is sleg, maar dis lekker om daaroor te skryf!
Hier is van my gedagtes oor rook, vasgevang in twee gedigte


kooltjie rooi
filter geel
asbak asseblief
rook lyk mooi
as jy verbeel
rook is kief
blaas 'n kring
trek diep
nikotien
genot gebring
puff pass skip
dood verdien



             rook: teen die plafon
                rook: grys
                 rook: blou
                kringe
             fyn lyne
                  seine
                    ni
                     ko
                    tien
                    en
                   teer
                    as
                    .
                   bra
                   ndo
                   ran
                   je
                   res
                   van
                   die
                   sig
                   are
                   twi
                   ten
                   wag
                   ten
                   dom
                   ger
                   ook
                   tew
                   ord
                   fil
                   tergeelvingers
                   van
                   dieburokraat

Thursday, August 26, 2010

Die een se dood is 'n ander se Huisgenoot


Ek weet nie meer wat ek weet nie en ek is wat ek weet
 Ek vergeet wat ek weet, weet ek dan nog wat ek vergeet het? Of weet ek net nie wat ek eintlik nog als weet nie. Wanneer weet jy presies wat aangaan of weet jy net wat jy wil weet? As jy iets nie wil weet nie dan weet jy eintlik wat jy nie wil weet nie, dan weet jy dit mos nou al klaar... Ek weet nie!

Goedkoop wyn proe goedkoop omdat dit nie duur is nie
Dit is so! Bring 'n bottel wyn na 'n kuier en sê vir almal dit het R30 gekos, dan vat almal eers 'n sluk subjektiwiteit voordat hulle die wyn proe. Bly stil oor die wyn se prys en laat hulle eers proe. Die smaak stel nie die prys nie, die wynboer se skuld by Standard Bank doen. Alle duur wyn was eens op 'n tyd ook goedkoop. Koop wyn, moenie die label koop nie.

Jou wêreld draai om jouself, my wêreld tol want dit draai om almal rondom my

Almal praat altyd oor hulleself, dit is natuurlik, instink. Dit moet vermaaklik en verkieslik humoristies wees, praat vlak, niemand luister in elk geval na die diep dinge wat jy probeer sê nie. Maar draai jou wêreld om jouself as jy oor jouself praat? Almal kry mos 'n kans om te praat oor hulself met iemand wat dan na hulle luister. Tweerigting! Ek hou van praat, maar ek hou meer van luister. Luister na almal se staaltjies, hartseer, grappe, hul naweek, toekomsplanne, verhoudingsprobleme, gunsteling musiek, talente, stokperdjies, voorkeure, verskille, geloofsoortuigings, standpunte, aksente, kennis... My wêreld tol, en almal wat iets vir my sê hou dit aan die tol, dit is hoe ek daarvan hou.

'n Leë stukkie papier vra vir 'n gedig.
'n Gedig vra vir trane
Trane vra vir 'n leë stukkie papier...

Monday, August 16, 2010

Langafstand heimwee in dronkenskap


langafstand is vertroue
langafstand is vasbyt
dis sterk prestik
dis superglue

en ek het daarin beland
met twintig rand
en 'n halwe tenk petrol
wat my halfpad tot by jou sal bring
en in droomland
na 'n fles wyn
(fles sê vir my tog so lekker)
sal ek verder
tot by jou moet reis

want die buffels lê saai
in my beursie
en my banksaldo sê empty
terwyl my hart oorloop
van langafstand liefde
saam met valiant swart en koos
ek sal maar die nag
soos vannag
met 'n bottel pinotage troos

en jou liefde brand soos 'n konka
'n warm hittegolf
maar soos die mot
kan ek nie nader kom
want ek sal verskroei
of in my geval verdwaal
en more het ek klas

ek sal jou die naweek kom haal

Tuesday, August 10, 2010

Vir Christelle

Petrolgeld. Tolgend. Die N1 Noord na Kolonnade winkelsentrum. Rooigebrande karwagte in geel baadjies. C & R Security, dit staan so op hul rug. Skoonmakers wat vloere mop en mense met vol trollies wat die "Danger! Wet" bordjies ignoreer. Mense wat moeg is vir inkopies en kinders wat huil. Groottes, kleines, dikkes, dunnes, oud, jonk, ryk, arm, soos ek. Mense wat net vir die mooi goed in die winkelvensters kyk, soos ek. "50% Off" bordjies in Woolies se vensters. "Red Hanger SALE" by Edgars. "Winter Sale" by Truworths. "Final Clearance Sale" by Markham. "Buy one get one free" by JayJays. Koop hier! Koop daar! "Discount on all Puma shoes" by Sportscene. Kyk hier! Kyk daar! "20% Off when you spend more than R700" by Cape Union Mart. "Last of the bestsellers" by Queenspark. "Get R600 in discount vouchers when you join the Edgars Club *Terms and Conditions apply." Kry soveel afslag, kry hierdie verniet. "Koop een pak en kry 'n tweede vir net een sent!" by Coquis Mansuitrusters. Die beste, die nuutste, die mooiste, die grootste, die vinnigste, die kragtigste, die blinkste, die skoonste. Alles tot eer van Mammon.

By die huis vra my ma my of ek iets mooi gesien het...
"Ja, vir Christelle."

Thursday, August 5, 2010

My nooi is in 'n parkie

My nooi is in 'n parkie
My ouma in bordeel
Daars iemand... iemand in my huis
Wat my TV wil steel!

Tuesday, August 3, 2010

Die Hêlleluja trein












skakel maar jou selfoon af my liefling

hier is geen sein
en ons volg die suiderkruis kompas
met 'n sigaret en lustigheid vir avontuur
en dis lastig as die nag ons in die rede val
want ons moet die bestemming bereik
voor die vervaldatum verby is

en kyk na die maan my skat
hy slaan bommelakiesie net vir jou vanaand
en die sterre skitter helderder
as jy jou oë op skrefies trek
miskien moet ons wag vir een wat verskiet
ons het tog soveel tyd
want in die nag staan als stil

en jou pols klop soveel harder
as jy stomverslaan lanks my sit
terwyl die bankrotwind waai
deur die vlindervlakte
soos die vlinders in my maag
dan dink ek ek was al hier
lank gelede alleen
op 'n hartseer aand

maar vanaand koop ek vir jou blomme
met die sweet van aangesig
wie het gesê ek moet met geld betaal?
en ek wil jou een dring vra my liefling
bly by my tot die hêlleluja trein ons kom haal

Monday, July 19, 2010

dig digter

kan ek leer dig dosent asseblief?
so soet soos totius
hartseer jonker
die dronker kombuis
somber koos doep

kan ek leer dig dosent asseblief...
met woorde wat wys klink
woorde wat skreeu
woorde wat hoor
woord uit die hart

kan ek leer dig dosent asseblief!
alliterasie van my uitroep
metafories op die GW trap
'n paradoks op kampus
vergelyk met my begeertes

kan ek leer dig dosent ASSEBLIEF!
klankvorming in die mond
gedagtes in verstand
gevoel in die hart
en dalk 'n traan in die oog

kan ek leer dig
ek smeek dosent
asseblief

Thursday, July 15, 2010

Partykeer

Partykeer
moet ek myself net herinner
dat ek dit moet neerskryf!

Sunday, July 4, 2010

Kul jou daar, kul jou hier... Dit is ons kultier

kultier:

ons luister saam na jacques brel
en stry oor of dit as deel van ons kultuur tel
ons deel die wyn saam uit een bottel
en vertel mekaar van die swak afrikaans op die skottel
net om later die aand die kassie oor te skakel
na huisgenoot skouspel
en die label op die bottel wyn
sê tassenberg - verseker jou hoofpyn
ons leef die illusie
van hogere kultuur
maar geniet dit nogsteeds
om te stink na kampvuur
om te sokkie saam jou sussie
om saam te sing met bok van blerk
in die kar
pas na kerk

ek skree baby
en wonder of dit deel is van afrikaans
ek dink maybe
seker maar net saans
na sewende laan
na 'n ma-moer-vir-pa papsak
wanneer jou pieter koen cd op die rak
minder stof het as jou bybel
wanneer jou man moet help
om op die bure te gil
in 'n oomblik van passie
wanneer jy woorde wil laat rym met nie
of wanneer jy van voor af wil begin
of na ontbyt by die wimpy
baby
i love it when you talk foreign

elke saterdag in die beeld bylae
ontvang jy jou kultuursuigstokkie
met artikels oor taal, geskiedenis en vrae
oor ons toekoms en verlede
dit lyk na 'n interessante brokkie
maar jy lees net die inleiding
dis immers genoeg inligting
vir vanaand se debat om die vuur
na die bottel wyn
oor koop of huur
butch james of morne steyn
soet of sout marinade
sinodes of berade
oor die blou bulle se agterlyn
voordat jy die party op horings neem
met kurt darren en brandewyn

ek skree baby
en wonder of dit deel is van afrikaans
ek dink maybe
seker maar net saans
na sewende laan
na 'n ma-moer-vir-pa papsak
wanneer jou pieter koen cd op die rak
minder stof het as jou bybel
wanneer jou man moet help
om op die bure te gil
in 'n oomblik van passie
wanneer jy woorde wil laat rym met nie
of wanneer jy van voor af wil begin
of na ontbyt by die wimpy
baby
i love it when you talk foreign

Thursday, July 1, 2010

Inspirasie se koffie staan koud

Vakansie!

Jinne maar ek het darem uitgesien na die vakansie! En hierdie jaar is hy ekstra lank met die Sokker Wêreldbeker en FIFA wat die land vir 'n hele maand lank oorheers! Maar vakansie is een van daardie vreemde dinge wat onverstaanbaar bly vir my. Dit stuur altyd af op 'n anti klimaks, persoonlik werk dit nooit uit soos wat ek dit beplan nie, en sit ek op die einde van die dag met 'n maand lank van verveling, verotting, veroudering. My brein roes, my grappe raak op, my stories raak korter, ek raak apaties! En as ek my oë uitvee dan het ek nog 'n vakansie gemors. En die eerste dag wat dinge weer normaal verloop wens ek ek het weer vakansie! Dit maak net mooi niks sin vir my nie!

En dan sit ek met die vraag of inspirasie ook vakansie hou? Dit is nou byna 'n maand sedert my vorige artikel. En moenie my verkeerd verstaan nie, ek is lief vir skryf, dit is my passie! Hoe kan dit dan wees dat ek net nie die regte woorde vind vir 'n gedig of storie nie? Het inspirasie vergeet om vir my te kom kuier? Daar het dan so baie dinge nou al gebeur waaroor ek kan skryf, tog vind ek net nie die krag om die pen tot op die papier te kry nie! My pen was nog nooit so swaar soos in hierdie vakansie nie!

Ek kan eintlik nie meer wag tot ons terugkeer na normaal nie, tot ek weer gedwing word om te leer, lees, skryf en analiseer. Dit klink seker hartseer om die vakansie so te verwens, maar ek mis die kampus, want ek mis my inspirasie... Dalk is daar iets in Tuks se lugversorgers, of in Coffee Buzz se koffie, dalk is dit die gevoel van student wees, miskien die gesprekke met vriende, wat ook al dit is, dit is nie hier by my teenwoordig nie!

Ispirasie! Jou koffie staan koud!

Monday, May 31, 2010

Die sinneloosheid van 'n slet

Iets wat nou al 'n lang tyd my verontwaardig laat is die goedkoop satisfaksie van ons tyd. Alles word ingestel om seks te verkoop en adverteer. Seks moet maklik wees, 'n meisie moet na 'n pick up line beskikbaar wees vir watookal die ou wil hê, sy moet so goedkoop as moontlik aantrek, so min as moontlik, minder is meer! Laasweek was die laaste druppel in die emmer. Ek staan in Hatfield Square en rook 'n sigaret om die koue af te weer, ek het my dikste baadjie aan, 'n Woolies serp, 'n goedkoop gebreide mus, lekker dik PEP-stores kousies, alles om my lyf te beskerm teen die -3 grade Celcius Pretoria-lug wat deur my vel wil-wil sny... Slaan my met 'n strykyster oor die kop en noem my Iron Man! Hier kom 'n aster aangestap met NET, en ek sit die klem groot op die net, 'n somersrokkie aan. Geen Woolies serp nie, geen goedkoop gebreide mus nie, geen lekker dik PEP-stores kousies nie (oraait, ek verstaan, as jy 'n rok dra dan trek jy nie kouse aan nie, maar jy kry die boodskap...)

Nou hiers net twee moontlike scenarios: Of sy is in die koshuis en het al haar wintersklere in Clarens by haar ouerhuis vergeet, of sy soek aandag by los hotnotte wat deesdae volop in die Square ronddwaal (blykbaar verbrokkel alle verhoudings tydens die eerste jaar van universiteit). Vir elke honderd meisies wat in die middel van die winter met somersrokkies rondloop is daar dalk een waarvoor die eerste scenario geldig is. Die res is slette! Die res het geval vir die wêreld se idee van liefde, die sekulêre gedagtegang wat by ons ingeprent word deur elke plakkaat op die snelweg, deur elke episode van jou gunsteling televisiereeks en elke popsanger se nuutste lirieke. 'n Gesonde verstand sou weet dat dit te koud is om net met 'n rokkie uit te gaan, 'n gesonde verstand sou die slet-sienig van minder is meer bevraagteken.

Almal weet dat die vroue afdelings in klerewinkels seker 75% van die vloeroppervlakte beslaan. Wil jy vir my sê daar is nie een warm kledingstuk wat mooi lyk aan jou nie? Ek is seker die mode maak voorsiening vir die winter sowel as die somer. Meisies lyk mooi in wintersdrag ook (ek is mal oor 'n bruin paar leerstewels <(") en 'n serp is altyd interessant). Gaan sit en dink maar weer 'n bietjie oor hoe jy aantrek en vra jouself af of jy daai pakkie aantrek omdat dit mooi is en gepas is vir die huidige tyd en omstandighede of omdat jy gebreinspoel is...

Moenie dat seks jou motivering vir jou klerekaskeuses word nie!
Daardie baadjie wat tot bo toeknoop is lekker warm, daardie denimbroek ook! Moenie huiwer om dit aan te trek nie, daar sal nogsteeds ogies vir jou gemaak word, en daardie oë is dalk beter as die visolie-bespuite-bullybeef-geblikte bouncer se oë wat soos 'n magneet jou cleavage volg!

Hosja... My preek is verby, maak met dit wat jy dink goed is, noem my maar preuts of uit die oude doos of konserwatief. Op die ou end is dit nie ek wat gaan koud kry nie. Dit is ook nie ek wat gaan seerkry nie. Dis 'n jammerte dat mense die winter so terg... dis sinneloos om 'n slet te wees!


klakkelose vermaak


sinvolle flirtasie
vir sinnelose seks
vurige vlerksleep
vir goedkoop martini-henry
kras ko-itus in vuil kamers
'n hygroman verhandeling
koue gesprekke en kragtige gille
warm hande tussen komberse
wat gister nie joune was nie
warm koffie
bitter soos die sedeloosheid
van vyftien minute gelede
in kontras met die koue munte
wat oor vyf minute jou sak verlaat
wat more haar suiker en dunhill lights gaan dek
net sodat sy die aand verder kan verbroeder
om weer die sneeubaleffek voort te stoot
en haar deel te bring aan kweekhuiseffek
met virtuele kerslig vier en twintig watt
ultra violet ligte
vir 'n illusie van ultra slet romantiek
tussen nikotienwolk en pluiskombers
wat vandag weer aan 'n ander man se lyf gaan plak
met jou sweet as lakmiddel
en sy sweet word ook deel van die slet
die kaffee koket wat hom vasgevang het
met vangnet van verleidelike oë
wat gisteraand jou gehoek gehad het
wat more aand die man van die vrystaat gaande het
en almal is op haar kerfstok
en word onbewus deel van die slempmaal
en onkuis erotieke scenografie
wat sy met glimlag en twee dubbel d's verf

Lykdig aan die swanger vrou

die teksvers staan al in steen
die kis is klaar gekerf
en in 'n droom
het ek al drie keer na die gat gestaar
maar vandag sak ek ses voet
en sien hoe ongelowige Thomasse
met sneesdoeke en swart sambrele
trane stort op blaaie
met fotos van toe ek kind was
ongelowige Thomas!
druk jou vingers deur die gate van my gemoed
en aanvaar
ek groet

realiteit tref eers
wanneer dominee of dokter die doodsklok lui
met die afkondiging van my afsterwe
jy steek jou hande deur my sy
en voel die hartseer heimwee
in leë spasies wat 'n week en 'n dag gelede
nog gevul was met warm pols

om te lewe is soos kaartspeel
jy weet mos wat hulle sê
you win some you lose some
en ek het my laaste troefkaart uitgedeel
so vir ons ongebore kind
Start -> New Game

Sunday, May 30, 2010

Die sikkels wat ek begrawe het

Daardie gelykenis van die talente... Jy ken dit. Die een waar die man sy besittings toevertrou aan sy diensknegte. Aan die een gee hy 5 talente, aan die ander een 3, en aan die laaste een net een... En die laaste een het die talent in die grond begrawe. Ek voel soos die een wat die talent begrawe het, my talent wat ek ontvang het, weggesteek, onderduk deur die menings van vriende dat Afrikaans gaan uitsterf. Ek het met toe oë deur my skooljare gestap, met 'n bruisende begeerte wat uit my hart wou uitbars. Die begeerte om myself in Afrikaans uit te druk, om te kan skryf in Afrikaans, om te kan dig in Afrikaans. Ek het dit in die geheim gedoen, bang om as vreemd aanskou te word. Bang vir die wêreld wat my sou uitlag omdat ek genot uit metafore, sinonieme en alliterasie vind, omdat ek karaktereienskappe en klimakse in verhale raaklees, omdat ek kreatiewe gesegdes uitdink, omdat ek elke tweede sin wat my tong verlaat probeer kruisrym.

Ek weet die pen is skerper as swaard, my tong is 'n roer wat 'n groot skip stuur, maar ek het met die illusie geleef dat ek nie die skip sal kan stuur nie, en die skip het vir 19 jaar vasgeanker in 'n verlate hawe gelê. Dit is egter 'n groot verantwoordelikheid om stuurman te wees, 'n verantwoordelikheid wat ek in my eerste jaar op Universiteit eers aanvaar. Op Universiteit waar ek vir die eerste keer in my leeftyd met mense in aanraking gekom het wat dieselfde as ek voel oor taal, 'n vryevers en die toekoms van Afrikaans. Mense wat vriende geword het, vriende met wie ek nog 'n lang pad gaan stap. Vriende wat kollegas gaan word, kollegas wat saam my gaan veg vir Afrikaans. Vegters langs wie ek sal val. En as ons val, val ons met die wete dat ons tot die bittereinde gestry het.

Die skip se anker word gelig, ek is gereed om stelling in te neem agter die stuur. Moenie dat jou talent begrawe word nie, moenie dat jou vriende jou in boksies plaas nie. Boksies waarin jy nie hoort nie! Klim uit, grawe daai talent van jou op en maak 'n verskil met dit wat jy ontvang het!

Hierdie was eens 'n beeld van 'n geraamte in my kas
nou is dit 'n skildery wat ek in my voorportaal uitstal:

tussen die lig en jou droom:

wanneer die deure dig is
en die ligte verdoof
word die maskers van die agt tot vyf gelig
en lê jy met kop op kussing
tussen realiteit
en skynheiligheid

agter slot en grendel
kan jy skree en huil
oor die probleme wat soos planete
in jou kop wentel
en kan jy bid
en skryf

tussen die afskakel van lig
en die begin van die droom
vertrek jy na 'n plek
van geen karre of skepe
geen alarms of veiligheidshek
geen skuldeisers
of nare onderwysers
geen vuisgeveg
geen onreg
geen gedagte van als wat sleg is

tussen die afskakel van lig
en die begin van die droom

Wednesday, May 19, 2010

'n blokkiesraaiselgedig

'n Week terug het my ma vir my 'n blokkiesraaisel boek gegee en seker gedink sy gaan my woordeskat help opskerp. Ek weet nie wat sy van my woordeskat dink nie, maar die 42ste en laaste blokkiesraaisel het ek vanaand klaargemaak. Die boek is verkrag en toe moes dit nou gebeur dat blokraai 8 eerste loskom en op die grond val. In my verveeldheid vee ek toe al die woorde uit en skryf 'n gedig in die leë blokkies neer. Met 'n vloekskoot pas die gedig toe presies in die blokkies in. Ek kon my oë nie glo nie! 316 karakters in die gedig, 316 wit, leë vierkantige blokkies in Blokraai 8. En direk heg ek waarde aan my eerste blokkiesraaisel gedig:

'n blokkiesraaiselgedig (lees vlnr)

ek probeer jou invul
blokkiesraaisel agt
maar die woorde ontwyk my
en jou leidrade skuil
nie agter swart ink
maar agter glimlag
wat ek nie hier kan vind nie
en in jou oë
wat op my neerval soos herfsblaar
wat ek nie nou kan sien nie
eb en vloed elemente
rosyntjies is krente
songod ra
vroulike ouer is ma
kom nie voor in blokraai ag
die krag van die leë spasies
is verborge in jou onbeskryfbare prag

Saturday, May 8, 2010

kfc date

aan koshuisvriendin:

ek vat jou vir 'n kfc date
ons deel 'n streetwise two vir ontbyt
met my laaste sente koop ek roomys
en bêre die kleingeld in my spacecase
die koshuisgras was ons tafel (jy haat dit om op stoele te sit)
versier met herfsblaar bruin oranje geel
in 'n uur probeer ek jou ontrafel
en begin ons lukrake gedagtes deel
van jou familie en skooldae
my familie en wat my pla (my skooldae kan ek nie onthou)
hoe ons in die eksamen kan kroek
wat ons in 'n metgesel soek
maar elke goeie date het 'n slot
so is die lewe
so is die lot
en ek groet jou met 'n druk
by die draaihek van magrietjie
en wens jou 'n naweek vol geluk
stap oor die straat
en neurie my gunsteling liedjie

Sunday, May 2, 2010

Die som van verskil

Jy dink in beleggingsformaat
ek droom in korusse
jy skryf formeel
ek sing in onverwerkte verse

Jou lewe is 'n perfekte
swart en wit skildery
myne is 'n landskap vol kleure
deurmekaar en onvoltooi
maar vir my bied dit vrede

Jou agenda is groter as jou omgee
jou onverklaarbare is swart
myne is 'n wêreld wat verken moet word
'n sleutel na 'n kamer in my hart

Jou simpatie is soos my haat
'n lang reis
jou haat soos my geduld
'n bestemming na aan jou huis

Te vinnig om uit te deel
bang om te ontvang
jou swaard het geen skede
jou pyle geen koker nie
my koker het geen pyle nie
my skede het geen swaard
ek voer die oorlog teen jou
met die woorde en
'n wit vlag

Wednesday, April 28, 2010

Almal was al by die beginstreep


Begin!

Almal het al iets begin, of dit nou 'n wedloop, 'n verhouding, 'n leefstyl of 'n studierigting is.
Vandag begin ek met my digitale dagboek, my reistas. Die plek waar ek alles wat ek nodig het kan bêre, waar my gedagtes gestoor word... Soos die stoorkamertjie waar al jou besittings lê wat jy net nie kan weggooi nie, besig om te verrot en stof op te gaar, maar te sentimenteel vir die swart blik!

Hierdie is my eie plekkie waar ek die opgefrommelde kampus gedagtes, my laataand gedigte wat te sleg is vir selfs die Huisgenoot of my skynbare wyshede wat ek lukraak kwytraak kan plak!

Vrede!

wees vir my 'n wynglas
waar ek my liefde in kan skink
wees vir my 'n uurglas
sodat ek die tyd verby kan drink
wees vir my 'n reistas
waarin ek my geheime kan pak
ja, wees vir my 'n reistas
want die pad is nog lank
en ek wil nie alleen daaraan dra nie

jy is die reistas in my hand, jy is daar
ons gaan nog wonderlike gebeurtenisse ervaar